Leiers van diverse kultuurgemeenskappe gaan oor Nasionale Dialoog en daarna saamwerk
Leiers van diverse Suid-Afrikaanse kultuurgemeenskappe het ooreengekom om ’n samewerkingsinisiatief op die been te bring wat hulle sal toelaat om betekenisvol en in goedertrou in gesprek te tree en saam te werk op sake van gemeenskaplike en spesifieke belang en kommer. Die inisiatief se eerste doelstelling is die samestelling van ’n insetdokument wat die kernuitdadings wat deur kultuurgemeenskappe in die gesig gestaar word, sowel as die voorgestelde oplossings vir dié uitdagings, uiteen sal sit. Hierdie insetdokument sal ook aan die Nasionale Dialoog voorsien word.
Die samewerkingsinisiatief streef daarna om ’n vreedsame en voorspoedige toekoms vir al die kinders van die land se kultuurgemeenskappe te verseker. Die inisiatief se werk sal ook verder strek as die Nasionale Dialoog. Die vorming van die inisiatief volg ná onlangse gesprekke tussen leiers oor die moontlikheid van samewerking oor die Nasionale Dialoog. ’n Werkgroep is saamgestel om ’n insetdokument vir die goedkeuring deur die leiers op te stel en om die proses vir die formalisering van die samewerkingsinisiatief te formaliseer.
“Die bestaan van kultuurgemeenskappe is ’n werklikheid; Suid-Afrika bestaan nie slegs uit individue en die staat nie. Leiers en hul organisasies wat tradisie, erfenis, taal, kulturele identiteit en kultuurgemeenskap aan die kern van hul begrip van en benadering tot die samelewing plaas, moet ook erkenning geniet en ’n plek inneem naas dié wat die individu of die staat sentraal plaas in hul ideologiese raamwerk. Vir dialoog om waarlik betekenisvol te wees moet burgers se verskillende ideologiese raamwerke erken en ingesluit word. Dit is noodsaaklik om wesenlike ruimtes te skep wat erkenning gee aan die diverse kultuur- en ander gemeenskappe wat die grondslag van ons samelewing vorm, en dat hulle ’n beduidende rol speel in die vasstelling van hul toekoms en inspraak het in sake wat hulle raak,” sê Barend Uys, medevoorsitter van die werkgroep.
“Leiers van kultuurgemeenskappe word uitgenooi en aangemoedig om by hierdie inisiatief aan te sluit en om hul perspektiewe op die kernuitdadings wat deur kultuurgemeenskappe in die gesig gestaar word en die moontlike oplossings daarvoor, te deel. Dié kwessies moet die fokus van die pogings wees om ’n vreedsame en voorspoedige toekoms vir die land se gemeenskappe te verseker, en moet daarom ook die fokus van die Nasionale Dialoog-proses wees. Hierdie samewerkingsinisiatief dra ’n kragtige boodskap oor dat kultuurgemeenskappe en hul leiers – wie se stemme dikwels nie gehoor word nie – die inisiatief en verantwoordelikheid opneem om met mekaar in gesprek te tree tot voordeel van en vir die vreedsame naasbestaan van huidige en toekomstige generasies,” sluit nkosi Langa Mavuso, medevoorsitter van die werkgroep af.
Inligting rakende die werk van die samewerkingsinisiatief, insluitende insette aan die Nasionale Dialoog, sal beskikbaar gestel word op www.peoplesdialogue.org.za.