Diverse kultuurgemeenskappe vestig historiese interkulturele samewerkingsnetwerk
Leiers uit diverse Suid-Afrikaanse kultuurgemeenskappe, het gister formeel die Kultuurgemeenskappe-netwerk (KGN) gevestig. Die KGN is ’n interkulturele samewerkingsinisiatief wat ten doel het om ’n vreedsame en voorspoedige toekoms vir die kinders van alle kultuurgemeenskappe in die land te verseker.
Die KGN dien as ’n forum vir kultuurgemeenskappe om betekenisvol en in goedertrou in gesprek te tree en saam te werk aan kwessies van gemeenskaplike belang en kommer. Die KGN is gevestig deur die aanvaarding van die Ordereëls van die vergadering van die KGN deur 38 afgevaardigdes vanuit 26 verskillende kultuurgemeenskappe uit al die provinsies wat die formaliseringsvergadering in Pretoria bygewoon het. Samesprekings tydens hierdie eerste in-persoon vergadering van die KGN het op twee hooftemas gefokus: die volle verwesenliking van kultuurregte en sosio-ekonomiese ontwikkeling.
Die formele vestiging van die inisiatief volg op onlangse gesprekke tussen leiers oor die moontlikheid van samewerking aan die samestelling van ’n insetdokument, wat aan die Nasionale Dialoog voorgelê sal word. Hierdie dokument sal die kernuitdagings wat kultuurgemeenskappe in die gesig staar, sowel as die voorgestelde oplossings vir dié uitdagings, uiteen sit.
Samesprekings rondom die volle verwesenliking van kultuurregte het aanleiding gegee tot die identifisering van die volgende fokusareas:
- Ontwikkeling en bevordering van tale wat tans nie erken word of volledig ontwikkel is nie.
- Bevordering van moedertaalonderwys vir alle kultuurgemeenskappe.
- Bevordering van betekenisvolle erkenning van alle kultuurgemeenskappe, spesifiek die verskeie Khoi-San, Afrikaner en ander nie-erkende kultuurgemeenskappe.
- Versterking en bevordering van kultuurregte.
- Bevordering van grondeienaarskap deur kultuurgemeenskappe.
- Bewaring en ontwikkeling van erfenis en erfenisterreine.
Samesprekings rondom sosio-ekonomiese ontwikkeling het gelei tot die identifisering van die volgende fokusareas:
- Identifisering en vestiging van geskikte regspersone vir kultuurgemeenskappe om hul grond te bestuur en met titelakte te besit.
- Identifisering van wyses waarop kultuurgemeenskappe regverdig kan baat by mynbou en ander kommersiële aktiwiteite op hul grond.
- Samewerking en die vestiging van vennootskappe vir beplanning, projekuitvoering en finansiering.
- Bevordering van onderwys, opleiding en vaardigheidsoordrag.
- Versterking van selfstandigheid en selfversorgendheid deur die potensiaal van grond te ontsluit deur landbou en ander kommersiële ontwikkeling deur ’n vennootskapsbenadering.
- Leer uit mekaar se suksesse.
Afgevaardigdes vanuit die volgende kultuurgemeenskappe het aan die vergadering deelgeneem: Afrikaner Nama, Afrikaners van AfriForum en die Solidariteit Beweging, AmaBhele AseLenge, Amaquas Nama, AmaQwathi, BakaMawewe, Bakgatla Ba Kgafela, Bakgatla Ba Moshetla, Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi, Barolong Boo Seleka, Danster Korana, Lebelo, Links Korana, Mahumani, Majeje, Makholokoe, Malangeni, Mandlakazi, Marishane, Ovaherero, Phaahla, Taaibosch Korana, Waterboer Griqua, Xam Kei Korana en Yzerbeck Korana. Bykomende kultuurgemeenskappe is deur waarnemers verteenwoordig.
Die KGN nooi kultuurorganisasies, gemeenskapsorganisasies, koninklike of tradisionele leierskapstrukture, gemeenskapsverteenwoordigende organisasies en ander erkende instellings wat kultuurgemeenskappe se belange verteenwoordig, om by hierdie historiese poging aan te sluit en deel te neem om voorspoedige en vreedsame naasbestaan van kultuurgemeenskappe op voetsoolvlak te verseker.